Generasies wat was, was en wat is sal spoedig ook nie meer wees nie,
die sterre wat die hemelruim van my tydgenote verlig, word beurtelings uitgedoof.
Een vir een word die fondasie-leêrs van ons gemeenskap weg geroep,
stadig maar seker word hulle voorbeeld van nederige diens
en wedersyde respek deel van die vergete anale,
soos in ’n mistige en mitologiese feëverhaal.

Onherkenbaar lê die vervreemde,
soms verwoeste, dog vaagweg bekende landskap.
Die malie is vuil, die brug is omhein en die akkerboem
van oorle’ tie Annie het lank trug geval.
Die kleigat, die koppel-makrankas en die lupins is vergete
en die bergpaadjies behoort aan ’n ander,
met lemmestjiedraad en rassehaat.
Daar is nie meer ’n ou sokkerveld nie,
nog minder ’n prinsiesvlei van ta Mary Dawid, van populierbome en gras.
Mooi helder skyn die ligte nou, wat verblinded uitwis
die sinkplate van ta Bettie Patel
en die klipveld langs Pries Du Plessis.
Die sand-strate is geteer en word verniel met die spuitverf van ’n onverantwoordelike jeug.

Die dae van Jan Bos, Oem Siepo, Jan Skippers, Awie Jacobs,
Pastor Joubert, die Silistons, ouma Brownie,
Appie Kraai, Happy Cow, Bra Maans,
Oem Oortjies, Neelsie Hoenderkop, Slang, Arm Rot,
Oem Et en ta Meraai; dié dae is skielik amper ontmoontlik om te onthou.
Hoe ons dit kon reg kry om mekaar ini aand sonder straatligte te herken bly ’n raaisel.
Die huisies van ta Leia, Meisie Pang, oem Jan Bos
het almal tot stof verkrummel,
net die huisie van Ouma Snel het bly staan,
as ’n hardnekkige monument uit vervloë se dae.
Die berghuisie van my kinderdae het afgebrand en is
so vergete soos die waterput op die baan.