Mag die maan vir jou sterre vang
Onder die hemelruim; diep in die melkweg
Mag die son se strale jou nooit skroei nie
Die waters jou nooit storm loop nie

Mag die voeltjies vir jou takkies van geluk bring
Jou drome aan die doringdraad hang en vlerke kry

Mag die sneeu jou nooit plat val nie
Die lente altyd bloeisels bring
Mag God jou styf vashou
Jou vrede gee vir al die smart

Mag die dag nooit lank raak nie
Die nag nooit té kort nie
Laat die druppels op jou kop val
Skep as dit pap reën

Dans met die stilte as musiek
Sing met die wind as begeleiding
Spring van poel tot plas
Baljaar in die somer reën

Gryp na geluk
Gooi weg die woede
Bedank die genade
Mens kry dit so vanselfsprekend

Wees lief vir die wêreld
Wees lief vir jouself
Jy verdien die geluk wat jy so maklik weg gee.